Kanniedood

Kanniedood

As jy hierdie lees weet jy heel waarskynlik al iets van Francois Van Coke. Soos dat hy die voorsanger was van Van Coke Kartel of dat hy ’n boksgeveg gewen het teen voormalige Springbok rugbyspeler Derrick Hougaard of dalk herken jy hom net as die ou wat saam met Karen Zoid ‘Toe Vind Ek Jou’ sing. Maar vir omvattenheidsonthalwe laat ons asseblief toe om vir jou ’n karakter te skets. Francois is gebore in 1983 in Brakpan as die jongste kind en enigste seun van Dominee Theo en Marlene. (So terloops, hulle van is nie “Van Coke” nie). Kort daarna verhuis hulle Bellville toe waar Francois in 1998 sal matrikuleer aan die Hoërskool Bellville as onder andere eerstespan skrumskakel, Mnr. Bellville en Seniorraadslid. In 2003 begin Francois omstredenheid verwerf as voorsanger van eksistensiële en soms beskryf as nihilistiese punk rock groep, Fokofpolisiekar, wat die land plat toer en ouergarde warm onder die kraag het net waar hulle gaan. Hedonisme is aan die orde van die dag. Hy word ietwat van ’n kulturele ikoon vir die afrikaanse ontneemde jeug. Francois stig saam met Wynand Myburgh (basspeler en bestuurder van Fokofpolisiekar) in 2007 rockgroep Van Coke Kartel en die partytjie gaan voort. Francois se “lefthand man”, hoofkitaarspeler Jedd Kossew sluit by Van Coke Kartel aan in 2010. In 2015 skop Francois sy solo loopbaan af. Fast forward tot in 2022 en hy is gelukkig getroud, ’n pligsgetroue Pa van twee, nugter en bly in ’n voorstad van Kaapstad. “Die aanvaarding van sterflikheid. Memento Mori”, beantwoord hy op die vraag oor die temas van sy vierde solo-album, Kanniedood. “Dis ’n herinnering dat die dood onvermydelik is. ’n Herinnering om beter te wees vir die mense rondom jou”. Maar die album dien nie net as Covid memoires nie, “Ek wou fokus op skryf wat vir my lekker live gaan wees. My “hits” is als mellow songs, so my set raak ballad-heavy en ek sal graag meer pumping songs wil hê om dit op te kikker. Ek het probeer om ’n balans te hanthaaf”. Kanniedood is ’n groot projek. Behalwe vir sy band, Die Gevaar, wat twee vervaardigers insluit nl. Richard Onraet (Tarryn Lamb, Corné Pretorius) en Dolf Willemse (December Streets, Neon Dreams) is daar samewerkings met Elandré (Afrikaanse Popsanger) en Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties) asook verskeie vervaardigers onder andere Fred Den Hartog (Fred + Vegas, Die Heuwels Fantasties), Johnny De Ridder (Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties) en Werner Von Waltsleben (Kilokami). Die mengsel van insette maak vir ’n rock album met uiteenlopende genre invloede. “Van die eerste songs is begin skryf in Feb 2021 en die laaste stuff is opgeneem in Februarie 2022. Dit was lekker om die album te kan deurdink. Alhoewel dit ’n mengsel van genres is, voel ek dit is samehangend en verteenwoordigend van my geestelike toestand die afgelope 2 jaar.” Hier praat hy deur die album, snit vir snit. “Rus en Vrede” “‘Hel, ek voel te goed om te gaan rus in vrede’. Daai frase het gedien as inspirasie vir die album titel. Jedd se solo en dan die dual-solo tussen hom en Richard! Dubbel solo! Ek love dit! Dit het ’n Thin Lizzy (Ierse rock groep)-vibe. Ek sien dit as ’n punk song met ’n Thin Lizzy brug.” “Nie Alleen Nie” “‘Is die beste deel van my lewe verby? Klein bietjie aksie. Meestal net ek en jy en die aarde in ons palms en die siele op die branders’. Daai frase wek intense emosie op by my.” “Maak Wakker” (feat. Elandré) “Dis een van die eerste liedjies wat geskryf was. Diep in die Covid-loopgraaf het die frase ‘Maak wakker die dooies en bring terug wat mooi is’ my geïnspireer om aan te hou. Elandré is iemand wat ek nog altyd interessant gevind het. Ek sien hom as ’n mengsel van Jim Morrison (Hoofsanger van The Doors) en Justin Timberlake (popsanger). Ek wou nog altyd saam met hom werk.” “Momentum” “Definitief een van die heavier tunes op die album! ‘Moet my nie terug hou nie. My hele lewe lank verkeerd ek wil nou vinniger beweeg’ sluit aan by die die album tema. Die lied het ’n lang instrumentele deel wat nie gereeld op my albums verskyn nie en Jedd se Josh Homme (Hoofsanger en kitaarspeler vir Queens Of The Stone Age)-tipe approach tot die kitaar werk blaas my weg.” “Hartseer Freaks” [Francois Van Coke & Hunter Kennedy] “‘Werklikheid is ’n lokval’ is ’n uitstaan frase vir my. Jou werklikheid is hoe jy dinge sien as gevolg van jou ervaringe, maar jy moenie jouself limit tot dit nie. Jy kan droom en uitbeweeg en ander mense se persepsies in sien. Dis altyd spesiaal om saam met my Fokof-manne te werk. Johnny se gees en sy unieke kitaarspel trap my in die gevoelens.” “SOS” “Die eerste vers se beelde is treffend. Dis die metal-ste wat ek nog ooit gegaan het op my solo albums. Dit was lekker om saam met Fred en Jedd en Hunter te werk aan die ene.” “Tot Ons Weer Kan Sien” “Ons het probeer om ’n poptreffer te maak. Iets soos The Weeknd (popsanger), maar dit het nie so uit gekom nie.” “Verlore” “Dis ’n love song geskryf vir Lauren (Francois se vrou). Dis daai gevoel wanneer mens baklei, maar jy weet jy is nogsteeds lief vir daai persoon. ‘Ons is gevind in die geraas’ som nogal ons ontmoeting goed op.” “Vibracrete” “Ek het al sulke liedjies in die verlede geskryf. SOS, the world’s a mess. Die wêreld is mal!” “Beste Geweer” “Ek het die ene geskryf vir my seuntjie, Max. Dit was aanvanklik ’n langer akoestiese liedjie, maar ek het net die goeie dele behou en Werner Von Waltsleben het die produksie-stange oor gevat en ’n uitstekende job gedoen om ’n baie unieke nommer vir my katalogus te vervaardig.” “Help my” “Dis definitief die mees tegniese song op die album. Sheldon Yoko (drommer Die Gevaar, Mikhaela Faye, Die Heuwels Fantasties) is ’n wiskunde genie. Hy tel goed wat nie bestaan nie. Ek dink dit gaan ’n moeilike ene wees om live reg te kry. Ek beskryf hier dinge uit my groot word jare. Dis nogal persoonlik. Dit vorm ook deel van die Momento Mori-tema. ‘Nie hier vir lank nie, kom ons doen ons beste’.” “Stories” “Dis die mellowste song op die album. Dis ook dinge uit my kinderdae wat ek hier beskryf. Ek hou van die brug lirieke: ‘Op die oop stukke grond hardloop die tarantale tussen die molshope rond. Gorillas hang uit by die ruite en die groot hande gooi die blikke in die strate. Ek het ’n comic gesteel in die skadu van die kerktoring. Lewe in verwondering’. As ek dit lees vat dit my terug na Meerlust straat waar ek groot geword het.”

Music Videos