Angie oeh Essentials

Angie oeh Essentials

Angie oeh se unieke aanslag en baanbreker werk in die Afrikaanse musiek kategorie kan nie oordryf word nie. In ‘n kompeterende niche industrie waar dames met grimering-toonbank-skoonheid en "tradisionele" waardes net-net beloon word het ‘n skraal lesbian met gesig tattoeërmerke wat mompelrym oor die manne se girlfriends steel vinnig die appelkar om gebliksem. In 2021 neem sy haar eerste demo self op in haar klerekas deur middel van selfoon. "Dis Jou Wyfie" versprei soos ‘n veldbrand op sosiale media. Valkie Van Coke (ook bekend as Wynand Myburgh; Talent bestuurder en lid van Fokofpolisiekar) neem haar onder sy vlerk en met die hulp van Peach van Pletzen (Vervaardiger, voorsanger vir Van Pletzen) begin skaaf hulle saam aan Angie se unieke groef. Met colabs saam met Loufi ("Dis Jou Wyfie (Remix)”) en Jack Parow ("Meisies & Partytjies”) en haar vars voorkoms gaan Angie van mylpaal tot mylpaal. Haar ambisie om inklusiwiteit te bevorder was eindeloos en haar menslikheid aansteeklik, maar steeds het sy teenspoed op getel. In die gesig van die vitrioliese comment sections het sy haar cool behou en oornag ‘n rolmodel vir al die misverstande en uitgeworpene geraak. Angie se meteoriese reis is tragies kort geknip op 19 Augustus 2023. Sy was 24 jaar oud. Sy’t dalk gemompel, maar haar skaamtelose kreet sal vir ewig weergalm.