Stuur Groete Aan Mannetjies Roux

Stuur Groete Aan Mannetjies Roux

Laurika Rauch het die liedjie "Stuur Groete Aan Mannetjies Roux" vir ses maande op die verhoog gesing voor die album gekom het. Die lied oor Mannetjies Roux was "slow out of the blocks" het Laurika aan Apple Music vertel "maar toe hy aan die gang is was hy baie groot. Dit was duidelik mens moet die naam vir die titel kies."Hier gesels sy deur die album, snit vir snit. “Kyk Hoe Glinster Die Maan” Laurika onthou dit was 'n Udo Jürgens liedjie. "Die uitgewer het na my toe gekom met 'n kasset en gesê kyk of jy nie van hierdie liedjies wil vertaal nie. Teen hierdie tyd was ek en Anton Goosen sulke puriste, en al wat ons probeer doen is om inheemse musiek te skep. Hoe sal ek dan nou 'n Duitse liedjie gaan vertaal." Sy vertel verder aan Apple Music dat Chris Torr (liedjieskrywer en haar man) die liedjies toe geluister het en stilweg Afrikaanse woorde geskryf het, wat by die melodie en ritme pas, en dit was gladnie 'n direkte vertaling nie. “O So Sentimenteel” "Dit was vir my nogal 'n uitdaging, vokaal, en ek het gevind dat ek nooit na die opname dit eintlik op die verhoog kon doen nie. Dit het netnie vir my stem goed gelê nie" vertel Laurika. Sy gee krediet aan die produksiespan wat in die destydse Decibel-ateljee "magic gemaak het met die liedjie.” “Die Nostalgie” "Die Nostalgie het 'n groot treffer geword. Dit was eintlik onverwags en ek is baie dankbaar daarvoor" vertel Laurika, en verduidelik aan Apple Music dat "van my liedjies 'n sekere nostalgie opwerk of opwek, en ek vermoed dat 'Die Nostalgie' eintlik baie goed daai atmosfeer weergee.” “Mis Oor Jacobsbaai” "Dis so gorgeous! Dis nog al die jare een van my verskriklike gunsteling liedjies en hy het omtrent gladnie aandag getrek nie. Dis ook een van daai liedjies wat nie eintlik op die verhoog gedoen kan word met 'n pianis nie." Laurika onthou die dae van die Moog synthesizer-klank wat gebruik is in die ateljee, wat dit feitlik onmoontlik maak om die klank by konserte te herskep. “Stuur Groete Aan Mannetjies Roux (Weergawe 1)” Daar is twee weergawes van die liedjie. "Die eerste weergawe is wat Wessel van Wyk vir my begelei het" onthou Laurika. "Op daai stadium in 1990 toe ons nou die liedjie moes skep vir die verhoog, toe het hy (Wessel was Laurika se begeleider/pianis by optredes) Mozart se klavier-sonata in C majeur aangepas om dit te gebruik as die eerste note, en die opening van die liedjie. Sederdien gebruik my pianiste steeds dieselfde inleiding want dit is so beautiful.” “Blou” Laurika het aan Apple Music vertel dat André Swiegers die liedjie wat hy geskryf het vir haar in haar huis in Johannesburg kom speel het. "Ek het regtig hard gesoek na liedjies wat ideaal is vir my. Die blote feit dat hy die liedjie vir my gegee het, is 'n absolute wonderwerk. Dit was 'n ongelooflike geskenk, want die liedjie het soveel voete gekry oor die jare. Dis Meisies Hoër se temalied omdat hulle alles blou aantrek. Die goed wat mense my vertel oor hulle assosiasie met die liedjie is enorm.” “Septemberland” Laurika vertel oor die toonsetting van die gedig "daar is altyd iets in 'n liedjie wat my vang as ek dit graag wil opneem. Ek wou nooit 'album fillers' op my album gesit het nie. Elke liedjie wat ek opgesit het moes die potensiaal hê om 'n treffer te word." Sy noem dat die woorde 'Laat hy sy kind wat bakhand kyk' so visueel was en dit haar aandag onmiddelik getrek het. “Begin Somer (Vir Simone)” "Hierdie is 'n toonsetting van Ingrid Jonker (digter) wat in elk geval in my laai was" het Laurika aan Apple Music gesê. Sy het onthou dat die ritme nogal moeilik was omdat sy amper 'n pop-aanslag moes hê, en met 'Begin Somer' het sy meer geleer oor hoe om bietjie meer "Square" te sing. “Stuur Vir My 'N Foto” Laurika lag oor die stuur van fotos en dat dit steeds gebeur, miskien net op 'n meer moderne manier en gladnie ge"date" het nie. Sy vertel verder "dis vir my 'n baie sensuele lied. Dis baie goed geskryf en dit bly vir my nog steeds een van my gunsteling liedjies.” “Dry Land” "Ek sluit altyd een Engelse liedjie in op my albums, sommige kere meer. Dis 'n Joan Armatrading liedjie. Sy het dit in 1975 opgeneem en dit was 'n amper vintage liedjie." Laurika vertel verder dat Engels vir haar tweede natuur is omdat sy in die Kaap grootgeword het en getroud is met 'n Engelsman en die insluit van so 'n liedjie is dalk om haar Engelse gehoor te “embrace." “Stuur Groete Aan Mannetjies Roux (Weergawe 2)” "Ek het jare gelede skool gehou in die Kaap. Ek en 'n paar ander onderwyseresse het Wupperthal toe gegaan na die Morawiese Sendingstasie in die Cederberge. Dit was 'n outing vir die skool. Hulle (Die Morawiese Kerk) gedenk die dooies in November en dit was Dode-Sondag daai dag gewees." Laurika skep vir Apple Music verder die prentjie van die mans in hulle kispakke aan die een kant van die kerk, en die vrouens in wit, aan die ander kant. En hoe die klokke lui en hulle aanstap met kranse in hulle hande na die grafte, vars witgekalk. "Wat my verskriklik ontroer het was dat daar 'n oompha band was" en Laurika het toe versoek dat haar regisseur daai klank skep aan die begin van die liedjie. “Op Blouberg Se Strand” Oorspronklik was die 'n Udo Jürgens liedjie wat los vertaal is. "Dit was die eerste liedjie wat Chris (Torr) ooit vir my geskryf het" vertel Laurika. "Hy het een aand vir my geroep en gesê kom luister net hier. Toe sit hy die kassetjie in die masjien in, en toe moet ek nou op die stoel sit en hy gee toe vir my woorde voor my. En sovêr soos dit gaan, raak ek toe natuurik heeltemal aan die huil. Dit was vir my baie moving gewees dat my Engels-sprekende man so goed Afrikaans kan skrywe, dat dit klink soos wat Afrikaners dit praat.” “Miekie” "Dis basies 'n brief aan 'n geliefde wat jy verloor" vertel Laurika oor die liedjie wat haar man Chris Torr geskryf het. Die refrein is benader soos 'n Griekse-koor wat tradisioneel "die groepie mense is wat op die verhoog staan en dan kommentaar lewer of waarskuwing gee oor wat gaan gebeur." Die liedjie is geskoei op ware gebeure rondom 'n veerboot ramp jare gelede. “Die Ballade Van Jakob F De Beer” "Die Windpomp-Ingenieur" vertel Laurika is hoe Chris (Torr) die liedjie geskryf het om status aan die man te gee. "Maar die groot ding met 'n windpomp is dat die wind moenie draai nie. En dan is dit natuurlik die tragedie dat die wind gedraai het. En hy (Jakob) het dan nou net sy geliefde gevind en hulle het mekaar gevind en sy is byna mooi.” “Ek Het 'N Huisie By Die See” Laurika se agter-klein-niggie (Laurinda Hofmeyr) het die gedig getoonset toe sy in std 9 was. Tydens 'n besoek by hulle het Laurika die liedjie gehoor en gevra of sy dit kan gebruik "toe sê sy (Laurinda) nee, ek kan dit nie opneem nie en ek het dit toe maar net so aanvaar." Dis toe daar gelaat want Laurinda was deel van 'n sanggroep en hulle het dit self gesing. Gelukkig vertel Laurika verder "het sy na so rukkie teruggekom en gesê ek kan dit doen. So ek is baie dankbaar daarvoor want die liedjie het baie vêr gegaan."

Select a country or region

Africa, Middle East, and India

Asia Pacific

Europe

Latin America and the Caribbean

The United States and Canada